Liewe ouers,
Welkom terug na ‘n kort breuk van die gewone daaglikse roetine. Ons hoop almal het lekker gerus en is reg om die nuwe kwartaal met al sy uitdagings aan te pak.
Dit is ‘n groot kwartaal vir die Muise en ouer Ladybirds wat volgende jaar groot skool toe gaan. Hulle doen afrondingswerk van al die vaardighede wat hulle tot dusver geleer het om seker te maak hulle is reg vir die verandering van kleuterskool na groot skool. Ons wil net beklemtoon hoe belangrik dit is dat die maatjies elke dag skool toe kom en dat hulle moet leer om onafhanklik te funksioneer, bv. self klas toe stap, self aan-/uittrek, self skoene aan-/uittrek, hulle eie tassies dra ens. Dit gee vir hulle selfvertroue en leer hulle om verantwoordelikheid te aanvaar vir hulle eie besittings.
Die kwartaal het afgeskop met ‘n baie lekker tema, naamlik “Kinders van die wêreld”. Dankie aan tannie Christa wat hierdie week die spyskaart aangepas het, sodat dit inpas by ons tema en die lande wat hierdie week behandel word. Die kinders geniet dit vreeslik baie!
Ons is seker julle is net so bly soos ons dat die land nou op Vlak 1 van inperking is en dat ons so ‘n klein bietjie meer vryheid het. Op daardie noot, het ons besluit om die jaar af te sluit met ‘n mini-kermis op Vrydag, 26 November. Teken solank die datum aan in julle dagboeke. Dit gaan nie so groot soos ons gewone kermis wees nie en dit gaan nie in die skoolgebou plaasvind soos gewoonlik nie. Ons beoog om dit buite onder die bome by die parkeerarea te hou.
Die klasse is verantwoordelik vir die volgende tafels:
- Vlinders – Speelgoed
- Skilpadjies – Drinkgoed
- Beertjies – Pannekoek (saam met die Eendjies)
- Eendjies – Pannekoek (saam met die Beertjies)
- Pikkewyne – Wit Olifant
- Ladybirds – Lekkers
- Hasies – Kos (saam met die Nasorg)
- Bytjies – Padstal (saam met die Muise)
- Muise – Padstal (saam met die Bytjies)
- Nasorg – Kos (saam met die Hasies)
Om die geleentheid suksesvol te maak gaan dit ‘n groot spanpoging moet wees. Ons vra dat elke maatjie ‘n donasie van R50 sal skenk waarmee ons gaan woeker of julle kan ‘n produk / item vir jul klas se tafel skenk wat dan daar verkoop kan word. Gesels gerus met die klasonderwyseresse indien julle opsie 2 verkies. Indien julle enige items het wat by die huis rondlê en nie gebruik word nie, kan julle dit skenk vir ons “wit olifant tafel”…..soos hulle sê….”One man’s junk is another man’s treasure”
Let wel: Elke donasie sal hartlik waardeer word, maar is nie verpligtend nie.
Saam met ons mini-kermis gaan ons ook weer lootjies verkoop. Enige iemand wat bereid is om ‘n prys te skenk vir die lootjies kan ‘n epos rig aan Anneke @ admin@kabouterland.co.za om aan te dui wat die prys is (bv. vouchers, wyn, hampers, oornag in gastehuis, speelgoed vir kinders, skaap, rondte golf of enige iets wat jul maak / verkoop is welkom)
Ons wens vir almal ‘n wonderlike laaste kwartaal toe. Daar is nog net 11 Vrydae tot Kersfees 🙂
Groete uit die kantoor
Whatever you write on the heart of a child, no water can wash away