Liewe mammas en pappas,
Nog ‘n jaar lê op sy rug en ons wil van hierdie geleentheid gebruik maak om vir die Liewe Here baie dankie
te sê vir Sy Beskermende Hand wat gewaak het oor ons deur die loop van die jaar. ‘n GROOT dankie aan al
ons ouers vir al julle liefde, omgee en ondersteuning. Baie dankie dat julle ons kies om jul kabouters se
tweede huis te wees. Om na die kinders van Kabouterland te kyk is vir ons ‘n groot voorreg. Dankie vir
julle getroue samewerking met die reël van funksies en vir alle bydraes gemaak deur julle.
‘n Besonderse dankie aan die personeel wat met soveel liefde, geduld en deernis elke dag na die kinders
omsien. Julle is almal baie spesiale mense!
Met die Covid-19 inperkings wat vroeër hierdie jaar finaal gelig is, het ons kindertjies taamlik deurgeloop
met goggas en siektes deur die winter. Hopelik het almal se immuniteit nou ‘n lekker hupstoot gekry!
Ons het op 14 Desember ‘n dankdiens vir die kinders gehou. Baie dankie aan oom Gherswin wat vir ons ‘n
pragtige boodskap gebring het. Ons waardeer dit opreg.
Die jaar was vol hoogtepunte vir die kinders, met die Kermis, atletiekdag, kunsuitstalling, konserte en die
handgemaakte Kersgeskenke om maar ‘n paar te noem. Die kabouters het hierdie kwartaal ook ‘n
internasionale dag gehad waar hulle kon aantrek volgens ‘n sekere land en kos kon proe van daardie land.
Die kwartaal is afgesluit met Kersvader wat vir elke kabouter ‘n geskenkie gebring het. Nie almal was
natuurlik ewe bly om die man in rooi te sien nie, maar hulle het die geskenke terdeë geniet en die
opgwondenheid was aansteeklik.
Op 2 Desember het ons ‘n “gradeplegtigheid” gehou vir die Muise en Ladybirds wat “groot skool” toe gaan
volgende jaar. Hier het elke maatjie ‘n sertifikaat, medalje en Bybel ontvang. Wanneer dit tyd raak vir ons
om kinders te groet, is dit altyd met gemengde gevoelens. Ons is hartseer om afskeid te neem, maar tog
ook SO trots op een en elk van hulle. Ons wens vir almal voorspoed toe vir die nuwe paadjie wat hulle
volgende jaar begin stap. Ons weet sommer dit sal baie goed gaan met hulle! Baie dankie aan tannie
Ronél en Chalandri wat alles ingesit het om hulle gereed te kry vir Graad R. Daar is gelukkig heelwat van
ons Muise en groot Ladybirds wat volgende jaar weer aansluit by ons Nasorg, so ons sal hulle darem nog
sien. Aan al die ander kabouters wat klaarmaak by ons, wil ons alle voorspoed en liefde toewens. Hulle
kan verseker wees dat ons hulle altyd in ons harte sal saamdra. Dit is vir ons vreeslik lekker om ons kinders
te sien grootword en te hoor dat hulle sukses behaal waar hulle ook al mag gaan.
Ons groet hierdie jaar vir tannie Ronél wat die afgelope amper 7 jaar die leisels in die Muiseklas geneem
het. Ons harte is baie seer om haar te verloor, maar ons wens haar alle liefde, voorspoed en sukses toe by
haar nuwe werk. Ronél sluit in Januarie as Graad RR juffrou by laerskool Destinatus aan.
Dit was vir Kabouterland ‘n baie hartseer dag toe tannie Karin op Woensdag, 7 Desember die aarde vir haar
ewige lewe verlaat het. Sy het die afgelope 2 jaar hard en braaf geveg teen die nare kanker. Ons sal haar
altyd onthou vir haar groot hart, glimlag en opgewekte geaardheid. Daar is soveel kindertjies deur haar
hande en ek is seker dat ons soos een man kan saamstem dat sy ‘n verskil in elkeen se lewe gemaak het.
Tannie Karin, ons gaan jou so, so baie mis, maar ons gun jou die rus. Ons is baie lief vir jou!
Kabouterland het ‘n besonderse span mense wat elke dag na u kinders omsien. Ons wil net dankie sê aan
elkeen wie elke dag die kinders ontvang, liefhet, versorg en leer. Julle deursettingsvermoë, geduld en
motivering maak ons baie trots. Die wete dat julle altyd ons kabouters se belange eerste stel, gee ons die
gerusstelling wat ons weet elke ouer nodig het om bedags met ‘n geruste hart te kan gaan werk. Baie
dankie aan die span in die kantoor wat sorg dat alles by Kabouterland elke dag glad verloop. Dankie aan
tannie Christa vir elke dag se lekker kos, asook vir haar ondersteuning en insiatief wanneer dit by
skoolfunksies kom. Haar groentesop bly ‘n groot wenner by die kinders in die skool. Dankie ook aan Reon
en Gherswin wie ons werf netjies hou en al die herstelwerk behartig. Ek is ongelooflik trots op en dankbaar
vir my personeel. Ek dink nie hulle hoor altyd hoe oulik hulle eintlik is en hoe baie ons hulle waardeer nie.
Om kinders te versorg is nie ‘n werk nie, dit is ‘n passie.
Ons klaslyste is nou gefinaliseer en elke personeellid word spesifiek gekies vir die ouderdomsgroep waarin
hulle gaan werk. Julle het reeds uitgevind in watter klas jul kind volgende jaar gaan wees. Ons doen regtig
baie moeite om u kinders in die regte groepie te plaas. Ons neem alle faktore in ag voordat ons finaal
besluit watter klas die beste vir hom / haar sal wees. Ons vra dat u asseblief ons besluite sal respekteer en
vertrou dat ons elke kind in die klas plaas waar hulle na die beste van hulle vermoë sal ontwikkel. Ons
eerste prioriteit is om u kabouters se emosionele behoeftes aan te spreek en dit weeg die swaarste
wanneer ons die klasindelings doen. Kom gesels gerus indien daar iets is waaroor julle onseker voel. Ons
gaan volgende jaar definitief voort met 2 van ons buitemuurse aktiwiteite, naamlik Playball en
Monkeynastix, teen ‘n spesiale tarief van R290 per aktiwiteit per kwartaal. Daar is in die eerste kwartaal
ook ‘n administrasie- / inskrywingsfooi betaalbaar vir elke aktiwiteit. Meer inligting rakende die
buitemuurse aktiwiteite word aan die begin van volgende jaar aan julle deurgegee. Ons bied ook weer die
Xhosalessies, Musiek en Beweging en SlimKabouter van die skool se kant af aan teen geen addissionele
koste.
Die klasse se aktiwiteite is as volg ingedeel:
Pikkewyne, Bytjies, Hasies, Muise en Ladybirds – doen alle aktiwiteite
Eendjies – Hulle doen Playball en Monkeynastix
Karate, Rugby en Ballet / dans sal aangebied word op aanvraag teen volprys. Dankie aan Kim wie al die
reëlings rondom die buitemuurse aktiwiteite behartig.
Ons kersprojek vir 2022 was om Gr. 1 skryfbehoefte pakette vir Weber Gedenk se kinders te voorsien. Ons
het, met die hulp van ons ouers, vir elke kind ‘n sak met basiese skryfbehoeftes, sowel as ‘n
lekkergoedpakkie geneem. Hulle was ongelooflik dankbaar en wou graag hê dat ons die boodskap ook so
aan julle sal oordra. Ons wil ook van ons kant af dankie sê aan almal wat bereid was om kind te borg.
Jacolien sal Desember se state en Januarie fakture uitstuur voor ons sluit. Onthou asseblief om uitstaande
skoolgeld te vereffen voor u met verlof vertrek. Baie dankie aan almal wat getrou en betyds die skoolgeld
vereffen. Dit help ons om al ons verantwoordelikhede na te kom. Indien daar enige probleme is met
betaling, kontak asseblief vir Jacolien by accounts@kabouterland.co.za
Let asseblief net weer op dat skoolgeld vooruitbetaalbaar is op die eerste dag van die maand. Onthou ook
asseblief om u rekeningnommer as verwysing te gebruik met betalings. Dit is gewoonlik die eerste drie
letters u van met ‘n nommer by (die rekeningnommer is op die faktuur), bv: COE001.
Dan wil ek graag afsluit met iets waaroor ek regtig passievol is. Gordel asseblief u kinders vas wanneer u
bestuur en onthou dat kinders onder 12 nie voor mag sit in ‘n voertuig met lugsakke nie. Volgens
navorsing gedoen by die Rooikruis kinderhospitaal, is bevind dat indien ‘n kind uit ‘n voertuig geslinger
word, die kans dat die kind sal sterf so hoog as 75% is. Meer kinders sterf a.g.v. trauma as enige ander
siekte en die meeste is die gevolg van ‘n motorongeluk.’n Mens moet in gedagte hou dat indien ‘n kind los
sit in ‘n voertuig tydens ‘n botsing, die kind soos ‘n projektiel aanhou beweeg teen die spoed waarteen die
voertuig gery het voor die impak. Daar is ook bevind dat kinders wat op ‘n skoot van ‘n ouer vasgehou
word, geensins veiliger is nie, nog minder indien die kind voor in die voertuig sit. Ek dink ons almal stem
saam dat dit nie onderhandelbaar is nie, kinders moet ten alle tye vasgegordel word. Ek weet dat dit soms
‘n groot geveg is, maar byt vas asseblief; hulle raak dit wel gewoond op die ou end.
Ons sluit Woensdag, 19 Desember 2018 om 17:00 en open weer die 8ste Januarie 2019 om 07:00.
Dit is my gebed dat elke huisgesin geseën sal word gedurende hierdie ruskansie en dat almal weer met
nuwe moed en krag 2019 sal aanpak.
Veilig ry!
Liefdegroete,
Reana