Liewe ouers,
Ons kom aan die einde van ‘n baie bedrywige derde kwartaal. Die kinders (en verseker die ouers ook) is moeg en sien uit na die September vakansie, al is dit maar kort. Dit was ‘n taamlike lang kwartaal en almal verdien ‘n ruskans. Soos altyd, met die draai van seisoene, steek allerhande goggas nou weer kop uit en kry die kindertjies se gesondheid maar swaar. Ons loop tans deur met sinusontstekings en verkoues. Ons het hierdie week besoek ontvang vanaf die gesondheidsdepartement wat die kinders Vitamien A en ontwurmingsmedikasie kom gee het. Hulle het ook ‘n paar maats, wat agter was met inentings, gehelp.
Aan die einde van die derde kwartaal word daar nie ‘n formele evalueringsverslag van elke kind huis toe gestuur nie, maar die onderwyseresse sal afsprake reël met ouers indien dit nodig is. As julle van jul kant af voel dat julle ‘n bietjie met die klasonderwyseres wil praat, maak gerus ‘n afspraak met haar. Aan die einde van die vierde kwartaal sal u weer ‘n formele vorderingsverslag van u kind ontvang.
Baie dankie aan elke gesin wat ‘n bydrae gemaak het tot ons Mandeladagprojek. Hierdie jaar was die fokus op Wilna Adams se sopkombuis. Ons waardeer julle bydraes met die “Jars of Hope”. Ons het self by die sopkombuis gaan help om die Jars of Hope uit te deel en die dankbaarheid van die mense wat dit ontang het, was tasbaar. Julle is tops!
Dankie ook aan almal wat ons ondersteun het met ons “Boomfonds” Ons het twee nuwe bome op die speelgrond wat hopelik nie te lank gaan neem om lekker groot te word en skaduwee te verskaf nie. Baie geluk aan Albert Fourie wat ‘n Springbok gewen het met die gelukkige trekking!
Ons het die kwartaal op ‘n kreatiewe noot afgeskop met een van ons gunsteling temas – Kinders van die wêreld. Die kinders en onderwysers geniet dit vreeslik om allerhande interessante aktiwiteite rondom hierdie tema te doen.
Die hoogtepunt van die kwartaal was ons jaarlikse kunsuitstalling op 29 Augustus. Die onderwyseresse, assistente en kinders het baie hard gewerk om die klasse op te tower met al die pragtige kunswerke. Ons is ongelooflik trots julle! Die kunsprojek wat saam met die kunsuitstalling gepaard gegaan het, was baie spesiaal. Elke kind het ‘n unieke sleutelhouer gemaak wat julle by die huis kan gebruik. Baie dankie aan almal wat hierdie projek ondersteun het.
Ons skop die 4de kwartaal af met Konsertweek vanaf 14-18 Oktober. Die tannies en kinders is al hard aan die oefen en ons is baie opgewonde om die toekomstige akteurs en aktrises se talente met julle te deel. Daar gaan ook ‘n lekker atletiekdag wees met ons “Sport” tema (die datum sal bevestig word) en Kersvader gaan ook later in die jaar ‘n draai by ons kom maak…as die maats stroopsoet is natuurlik!
Julle kry hierdie jaar weer die geleentheid om ons unieke handgemaakte kersgeskenke te bestel. Voorbeelde van die items wat beskikbaar gaan wees sal in die eerste week van volgende kwartaal uitgestal word. Ons sal dan ‘n googlevorm uitstuur waar julle jul bestellings kan plaas.
Partytjies – Onthou om te gaan loer na Kabouterland se partytjiepakette op ons webwerf, www.kabouterland.co.za. Enige besprekings en /of navrae rakende partytjies kan by Kim of Anneke gedoen word ( info@kabouterland.co.za ) Geskenke vir verjaarsdae kan ook by ons aanlynwinkel of die kas in die gang gekoop word.
Parkeerarea – Neem mekaar asseblief in ag in die parkeerarea. Parkeer in slegs een parkering. Ons vra ook dat julle asseblief nie vinnig ingery sal kom by die parkeerarea nie, ongelukke gebeur ongelooflik vinnig en veral die kleiner outjies is geneig om los te ruk en te hardloop. As julle stadig ry kan ons sodoende ongelukke voorkom. Gordel groot asseblief jul kinders vas wanneer julle ry. Ons weet dit is maar soms moeilik as hulle skop en skree, maar hul veiligheid kom eerste. Tel maar tot tien en byt vas tot by die huis en groot, groot asseblief, moenie met julle kinders op jul skote ry nie, dit is ongelooflik gevaarlik. Julle samewerking hiermee word baie waardeer.
Ons vra dat ouers nie by die klasse ingaan en kuier nie. Die kinders moet asseblief by die klasdeur (buite) afgesien word en weer daar ontvang word. Julle is egter welkom om jul kind se verjaarsdagpartytjie by te woon.
– Siek kinders / kinders met koors bo 37.5°C moet asseblief tuis versorg word. ‘n Kind moet asseblief 24h simptome vry wees voordat hulle weer mag skool toe kom. ‘n Kind wat deur die nag of vroegoggend koorsig was, nie lekker gevoel het nie of ‘n slegte nag gehad het moet asseblief tuis versorg word. Moet asseblief nie ‘n kind skool toe bring indien dit nodig was vir ‘n koorsstropie voor skool nie.
Ons is tans besig met die beplanning vir volgende jaar en daarmee saam kom die klasindelings. Heelwat ouers het al gevra na watter klas toe hul kind skuif, of neem aan dat hul kind skuif na ‘n spesifieke klas/tannie. Ons is nog besig met die indelings. Die finale klaslyste word eers met elke juffrou bespreek, voordat dit in Desember se vorderingsverslaggies aan julle deurgegee word. Let wel dat daar verskeie faktore is wat ‘n rol speel in die plasing van ‘n kind in ‘n spesifieke klas en dat dit besluite is wat ons nie ligtelik neem nie. Tussen al die personeel het ons jare se ondervinding in onderwys en kindersorg en vra ons dat julle ons asseblief sal vertrou met die besluite wat ons maak.
Daar is heelwat maats wat volgende jaar “groot skool (Gr R)” toe gaan. Teken solank Vrydag, 29 November, in julle dagboeke aan vir ‘n “gradeplegtigheid” geleentheid vir hierdie maats. Meer inligting oor hierdie spesiale dag sal op ‘n latere stadium aan julle deurgegee word.
Kabouterland sluit hierdie jaar op 20 Desember om 13h00 en maak weer op Dinsdag, 9 Januarie 2024 om 07H00 oop.
Ons hoop almal geniet Erfenisdag en die volgende week se asemskep na ‘n bitter bedrywige kwartaal.
Liefdegroete uit die kantoor 🍄
Vriendelike groete / Friendly regards,
Anneke Le Grange
Kabouterland Stellenbosch
(t) 0218801043
© 0768154932